Verskeie moordgevalle aangemeld

Talle mense is die afgelope twee naweke in verskeie voorvalle in Atlantis vermoor.


Talle mense is die afgelope twee naweke in verskeie voorvalle in Atlantis vermoor.

In die jongste voorval is die 25-jarige Gerswin Sabastian Sondagaand (27 November) net na 22:00 geskiet. Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, is die oorledene in Cosmosstraat, Protea Park geskiet. Volgens Dicks het hy op die toneel aan ’n kopskoot gesterf terwyl sy meisie in die been gewond is. Voorts sê hy twee verdagtes is in hegtenis geneem vir ondervraging.

  • Twee mans is tydens die vroeë oggendure van Saterdag 19 November in Enchantresstraat, Saxonsea doodgesteek.

Die mans, Lionel Beukes (45) en Mario van Niekerk (33), is vermoedelik gesteek na ’n argument oor ’n rugsak.

Volgens kapt. Cyril Dicks, het die argument ontstaan toe die verdagte skuins voor 04:00 huis toe gekom het en hy in ’n argument met sy stiefpa betrokke geraak het.

“Dinge het erger geword toe die verdagte glo nie sy rugsak kon vind nie. ’n Tweede man, wat ’n kamer huur by die familie, het glo betrokke geraak en die stiefpa en loseerder is noodlottig gesteek.”

Volgens die polisie het van Niekerk probeer keer.

Albei mans het op die toneel aan hul wonde beswyk.

Dicks sê verder, die verdagte het aanvanklik weggehardloop, maar het homself later die dag aan die polisie oorgegee.

Die man verskyn weer vandag (29 November) in die plaaslike landdroshof, waar hy sal aansoek doen om borgtog. Weskus Nuus het verskeie kere probeer om met die familie te praat, maar hulle het verkies om eerder nie met die media te praat nie.

  • In die tweede voorval dieselfde dag, in wat die polisie as ’n bende-verwante voorval bestempel, is die 23-jarige Johndrey Daniel, Saterdag 19 November naby Deerlodgestraat in Sherwood Park vermoor.

Die polisie het bevestig Daniels is geskiet en het ook verskeie steekwonde aan sy gesig en kop gehad.

Volgens Dicks is die oorledene in die bors geskiet en het hy op die toneel aan sy wonde beswyk. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

  • Die 15-jarige Anele Fatman is in die vroeë oggendure van Sondag 20 November by ’n sjebeen in Witsand vermoor. Volgens kapt. Dicks het Fatman saam met vriende drankies geniet toe ’n man hulle ongeveer 03:45 nader en hom in die keel steek. “Dit is in die stadium onbekend hoekom die man Anele gesteek het,” sê Dicks. Die verdagte is later deur die polisie in hegtenis geneem. Die 25-jarige man is in aanhouding en sal vandag weer in die plaaslike landdroshof verskyn, waar hy sal aansoek doen om borgtog.
  • Brandon Albert (20) se liggaam is Maandagoggend 21 November, net voor 01:00, deur ’n lid van die publiek in Ploverlaan, Robinvale ontdek. Volgens kapt. Dicks het die oorledene gesterf weens ’n koelbloedige skoot in die kop en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Enige persoon met inligting kan die polisie kontak by 0021 571 8500.

You need to be Logged In to leave a comment.