Met Valentynsdag wat pas verby is, is die meeste mense se gedagtes nog in die wolke.
Dit is so lekker om jou geliefde te bederf en natuurlik, om deur jou geliefde bederf te word. Maar, liefde maak seer vir dié wat vir ’n dwelmverslaafde lief is.
Kan ’n mens regtig iemand lief hê wat in dwelmmiddels se greep vasgevang is en hoe?
Dié wat met ’n verslaafde saamleef sal getuig dat dit bitter moeilik is.
Janet Smit, maatskaplike werker by die Atlantis-tak van die Kaapstad-dwelmberadingsentrum sê geliefdes van verslaafdes kry baie swaar en vergeet soms om ook na hulleself te kyk.
Smit verduidelik: “Verslawing kan die mens wat jy voorheen geken het, heeltemal verander. Die verslaafde mens kan in ’n ander onvoorspelbare en soms selfs gewelddadige mens verander.
Hoe gemaak as die mens wat jy liefhet, ook die een is wat jou die seerste maak?
“Dit is normaal om aan hoop vas te klou en om alles te probeer doen om hierdie persoon te red, of om soms selfs te voel dat jy hierdie persoon wil straf.
“Soms sal jy redeneer dat die persoon jou liefhet, daarom sal hy mos sien hoe seer jy kry en die misbruik staak. Jy sal herhaaldelik teleurstelling in die gesig staar en die mishandeling sal voortgaan.
“Soms probeer jy alles om jou geliefde te help, maar jy het steeds ’n gebreekte hart aan die einde van die dag.
“Moenie sleg voel dat jy onseker is nie. Jy sit natuurlik met baie vrae. Die vraag wat jy egter dalk vermy is, wie kyk na jou? Waar kry jy ondersteuning?
“Dit kan baie moeilik wees om met verslawing saam te leef. Die waarheid is, dat niks wat jy doen die verslaafde kan red nie. Die persoon moet homself red.
“Dit beteken egter nie dat die situasie hopeloos is nie. Deur na jouself te kyk en verantwoordelikheid te neem vir jou eie welstand, kan jy ook indirek jou geliefde help.
“Daarom moedig ek julle aan om uit te reik vir hulp en ondersteuning. Hierdie is nie iets wat jy alleen hoef te hanteer nie. Daar is hulp en ondersteuning beskikbaar. Wees lief vir jouself. Jy is belangrik genoeg om na jouself te kyk,” sê Smit.
. Sy moedig moedelose geliefdes van verslaafdes aan om hul naaste tak van die Kaapstad-dwelmberadingsentrum vir ondersteuning te kontak.