Die 12-jarige Quewin Botha wil die wêreld se bekendste gholfbane aan die brand speel.
Met dié sportman se huidige prestasies gaan sy droom binnekort ’n werklikheid word.
Dié graad 6-leerder van Parkview Primêr is Weskus Nuus en Supersport se April se Let’s Play-wenner.
Hy speel reeds vir die afgelope twee jaar gholf en het reeds die Westelike Provinsie se o.13-span in kompetisies verteenwoordig.
“Quewin is ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse gholfvereniging,” sê sy trotse afrigter Shawn Conrad.
Shawn meen Quewin se spel het reeds baie verbeter. “Sy voorgee was eers diep in die 20, maar vandag spog die jong gholfspeler met ’n voorgee van 16. Hy verbeter steeds en gedurende die skoolvakansie gaan hy aan verskeie toernooie deelneem,” verduidelik Shawn.
Die skaam leerder se groot droom is om Gary Player en sy gholfheld, Tiger Woods, te ontmoet. “Ek wil ook eendag aan al die vier groot gholftoernooie deelneem én wen,” sê Quewin.