Volstoom voort vir Hamlets

Hamlets het Saterdag 8 Julie op hul tuisveld vir Bellville in ’n Westelike Provinsie Superliga B-wedstryd met 24-8 geklop.


Hamlets het Saterdag 8 Julie op hul tuisveld vir Bellville in ’n Westelike Provinsie Superliga B-wedstryd met 24-8 geklop.

Die rustydtelling was 5-0 in die wenspan se guns. Hamlets-senter, Adrian Februarie, het ’n drie behaal ná skitterspel deur sy voorspeler-spanmaats.

Keanon Okkers, wat in die heelagter-posisie gespeel het, het misluk met die doelskop. Dit was maklik die enigste hoogtepunt van die eerste helfte van die wedstryd. Verder was die spel baie slordig en albei spanne het gesukkel in alle aspekte van die wedstryd.

Hamlets se Jody Jacobs het ’n geelkaart gekry vir gevaarlike spel. Die besoekers se skoppers was ook pateties en die telling kon heelwat verskil het as hulle nie gefaal het met die strafskoppe nie. Een strafskop is in die doodsnikke van die eerste helfte vlak voor die pale misgeskop.

Die Hamlets-span het heelwat beter gevaar in die tweede helfte. In die eerste vyf minute van die tweede helfte het losskakel Babatjie Van Niekerk oor die lyn geval vir ’n drie. Okkers het weereens misluk om die doelskop oor te klits. Die span van Bellville het teruggeslaan en ook ’n drie behaal na swak verdediging deur Hamlets.

Hul skopper kon ook nie die doelskop oorskop nie, maar het in die 15de minuut met ’n strafskop geslaag om die telling 10-8 te maak in Hamlets se guns met 22 minute oor.

Die laaste gedeelte van die wedstryd het aan Hamlets behoort en hulle het twee drieë gedruk en ’n bonuspunt behaal. Okkers het eers agter die pale gaan kuier. Hy het self die doelskop behaal en die opwindende plaasvervanger Romalyn Cupido het in die 81ste minuut Hamlets se bonus drie behaal. Van Niekerk het die moeilike doelskop oorgeklits.

Hamlets het ook skoonskip gemaak in die ander wedstryde. Tweede span: 27-22, Derde span: 20-5 en o.20: 15-6.

Dit was ’n belangrike oorwinning vir Hamlets, wat op 1 Julie teen Young People’s vasgeval het.

S
Saterdag pak hulle vir Violets op Mamre en die 22 Julie speel hulle weg teen Sir Lowrians.

Pella: Young Hearts het Hopefield in ’n wegwedstryd Saterdag 8 Julie met 50-33 geklop. Volgens Ashley Vister, spanbestuurder, het goeie samespel en veral goeie werk deur die agtal die oorsaak was dat die Pella-span die wedstryd kon beheer. Hopefield is totaal oorrompel in alle aspekte van die wedstryd. Barry Adonis (3), Jade Solomons (3), Anthony Williams (1) het agter die pale gekuier vir Young Hearts, Kirwin Snell (6) doelskoppe en Jade Solomons (1) strafskop het die ander punte vir Pella aangeteken.

S
Saterdag 15 Julie pak hulle Samoa van Moorreesburg tuis, Pella het die eerste ronde wedstryd teen dié span verloor. En Saterdag 22 Julie reis hulle na Langebaan.

Mamre: Die groentruie het nou twee agtereenvolgende wedstryde verloor in die tweede ronde van hul Boland Swartwes Grootuitdaag liga-wedstryde. Saterdag 8 Julie het hulle in ’n derby-wedstryd teen Darling op laasgenoemde se tuisveld met 24-36 pak gekry. Die rustydtelling was 12-12. Mamre was op ’n stadium 12-0 voor in die wedstryd.

Darling, tweede plek op die punteleer, het egter teruggekom en die wedstryd met ’n bonuspunt gewen. Mamre het danksy Steve Adams, Romaine Okkers, Jodre Arendse en Harold Cupido vier drieë aangeteken. Edwill Okkers en Duwayne Cupido het elk ’n doelskop oorgeskop. Darling se tweedespan wen 20-3 en hul derdespan 31-3.

S
Abbottsdale besoek hulle op 15 Julie en 22 Julie speel hulle weg teen Vredenburg.

Atlantis: Saterdag geniet die span nog ’n loslootjie en reis op 22 Julie na Fairmount High waar hulle teen Titans sal speel. Hulle is tans in die vyfde posisie op die Westelike Provinsie se Suidelike Liga.

You need to be Logged In to leave a comment.