Voorsitter van subraad sê sy gaan nêrens

Burgemeester Patricia de Lille het Sondag 5 Augustus aangekondig dat sy gaan bedank.


Burgemeester Patricia de Lille het Sondag 5 Augustus aangekondig dat sy gaan bedank.

Wyksraadslid en voorsitter van subraad 1, Cynthia Clayton, sê gerugte op sosiale media dat sy De Lille gaan volg en ook bedank, is glad nie waar nie.

“Ek was deur die kiesers gekies as hul raadslid en sal my mandaat uitdien,” het Clayton aan Weskus Nuus gesê.

“Ek weet nie waar die leuens vandaan kom of wie dit versprei nie, maar ek kan bevestig dat ek beslis nêrens gaan nie,” sê Clayton.

Peter Gomez van die Atlantis Concern Citizens hou egter voet by stuk dat die raadslid wel die woorde voor ’n getuie geuiter het.

Die burgemeester se bedanking het die tonge behoorlik los in Atlantis omdat baie plaaslike leiers glo die einde is in sig vir raadslede wat De Lille openlik ondersteun het. Weskus Nuus het verskeie menings oor die bedanking van De Lille as burgemeester gekry en wat dit ook vir plaaslike politiek gaan inhou.

Volgens ’n lid van die DA, wat nie geïdentifiseer wil word nie, moet die leierskorps ontslae raak van proporsionele raadslede wat die burgemeester openlik ondersteun het en nie hul politieke mandaat uitgevoer het nie. Die lid het uitgevaar teen die proporsionele raadsle­de omdat hulle die ander wyks­raadslid in Atlantis ondermyn.

Wyksraadslid Barbara Rass sê sy gaan nie kommentaar lewer of sy wel ondermyn word nie en sê sy gaan nie betrokke raak nie.

Raadslid Nora Grose van Melkbos sê sy is nie bewus dat enige raadslid ondermyn word nie, maar dat hul menings wel van tyd tot tyd verskil.

Volgens Fiona Abrahams proporsionele ANC-raadslid en lid van subraad 1, sal dinge nie oornag verander nie.

Abrahams sê sy vermoed die burgemeester het geskik met die DA-leierkorps om haar volgelinge in die party te beskerm.

Abrahams vervolg deur te sê, die vermoede is dat De Lille oftewel “Aunty Pat” soos sy onder die volk bekend staan, dalk Lennit Max se sitplek in die provinsiale wetgewer gaan inneem. Abrahams sê sy kan nie sê wat in die regerende party aangaan nie, maar wat sy wel weet, is dat die DA weet hulle sal baie van die bruin stemme verloor as hulle wel van raadslede ontslae gaan raak. De Lille se bedanking is geldig van 31 Oktober. Netwerk24 berig een van die voorwaardes vir die bedanking was dat alle interne tugverhore teruggetrek word.

You need to be Logged In to leave a comment.