’n Familie van Protea Park het baie onbeantwoorde vrae oor die motief vir hul lieflingseun se dood.
Brendon Cupido (29), is Saterdag 4 Februarie net voor 22:00 in Lanariastraat, Protea Park, op kort afstand in die kop geskiet.
Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, het ’n 40-jarige man hom Maandagoggend met die moordwapen (gelisensieerd) aan die polisie oorgegee.
“Die verdagte het erken dat hy die oorledene geskiet het, maar voer aan dat dit ’n ongeluk was,” sê Dicks.
Die verdagte is glo die broer van Cupido se vriendin, Chantell September. Die paar het saamgebly en het ’n vyf maande oue baba.
Brenda Cupido, ma van die oorledene, meen die verdagte het gekom om haar kind seer te maak.
Ruby Cupido, suster van die oorledene vertel: “Ons almal het lekker sit en kuier by vriende. My broer het na werk by ons aangesluit en sy vriendin het ook later gekom. Die kuier was lekker, want Brendon het geweet hoe om te kuier.”
Ruby vertel verder, hulle was na 21:00 op pad huis toe toe toe September se ma en broer by hulle aansluit en aandring sy (September) moet huis toe kom.
“Sy wou nie sonder Brendon gaan nie, omdat hulle twee saambly. Dinge het begin rof raak en die broer het Brendon begin rond ruk en slaan,” vertel Ruby.
Die twee mans het mekaar glo getakel. Die verdagte het, volgens Ruby, ’n vuurwapen uitgehaal en Brendon voor sy jonger broer geskiet.
Volgens Ricardo Willemse, ’n vriend van die oorledene, was Brendon ’n mense-mens. “Hy het gehou van kuier met sy familie en vriende. Hy was ook ’n hardwerkende persoon wat gelewe het vir sy kind en familie”.