Die Stad Kaapstad kan nie sê wat is die algehele koste tot nou in die Nora Grose- bedrog- en geldwasserysaak nie.
Weskus Nuus wou by die speaker, Felicity Purchase, weet hoeveel die Stad reeds daaraan bestee het, maar politieke leiers loop wye draaie rondom dié vraag. Die burgemeester, Gordon Hill-Lewis, het die vraag Donderdag tydens ’n volle sitting van die raad ontwyk.
Judy-Ann Stevens, ’n ANC-raadslid in die Stad, wou in ’n geskrewe vraag aan die burgemeester weet hoeveel die kostes tans beloop. Stevens het in haar brief aan Hill-Lewis gesê raadslede moes in die media sien dat kostes byna ’n halfmiljoen rand beloop.
Lewis het egter gesê die item word verkeerdelik op die Stad se papierwerk aangewys. Volgens Lewis moet dit reggestel word aangesien die kostes nie net van Grose alleen is nie, maar ook kostes insluit van ’n voormalige direkteur, Wilfred Solomons-Johannes.
Volgens die burgemeester is regshulp aangewys om Solomons-Johannes te help verklarings voorberei, en dit dra by tot die huidige koste. Solomons-Johannes het egter gal gebraak en dit as goedkoop politiek afgemaak. Volgens Solomons-Johannes weet hy dat hulp wel aan twee senior amptenare verleen is om inligting en verklarings te bekom, en hy was nie deel daarvan nie. Die voormalige direkteur van die Stad sê ook hy is deur die Valke gedagvaar om verklarings en bewyse te lewer. Hy erken egter dat hy wel deur die Stad se regspan gekontak is, maar het nie daarop reageer nie. Grose, ’n voormalige Subraad 1-voorsitter en wyksraadslid, het in die warm water beland toe geld vir noodverligting tydens die Covid-19-pandemie van een organisasie na ’n ander oorgeplaas, maar nooit vir dié doel aangewend is nie. Die Life Changers kerk het van die geld aan die Stad terugbetaal. Volgens Purchase het die staat die saak meer as 17 keer uitgestel, wat tot die kostes bydra. Volgens ’n betroubare bron na aan die saak kan die kostes nog baie styg omdat die verhoor nog nie eens begin het nie. Volgens die bron gaan die saak gewis nie verdwyn nie en het vertroulik gesê kenners op die gebied word nou ook ingespan. Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê hulle het wel ’n skrywe van Grose se regsverteenwoordigers ontvang om die saak van die rol te skrap. Ntabazalila wou egter nie uitbrei oor die skrywe nie en sê die saak is tot 10 Februarie 2023 uitgestel. Weskus Nuus het Grose se regspan gevra op grond waarvan die saak verwyder moet word; sonder sukses.