Die polisie van Atlantis, Darling en Malmesbury het ná ’n skietery twee vermeende vragmotordiewe gevang.
Die twee vermeende diewe het 9 Januarie in die vroeë oggendure by ’n huis in Hermeslaan, Saxonsea toegeslaan en is vort met die vragmotor.
Die eienaar en sy vrou het die vragmotor agternagesit terwyl plaaslike polisie versterking gekry het om die skelms te help vastrek. Die vragmotor het glo teen ’n hoë spoed in die rigting van Malmesbury gery. Dit het polisiebeamptes van drie dorpe gekos om die trok tot stilstand te kry nadat verskeie skote op die trok gevuur is. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, is die twee verdagtes gevang en na die Wesfleur-hospitaal geneem vir mediese behandeling nadat die passasier deur die polisie in die been getref is. Volgens sers. Jonathan Filander van die Darling-polisie, moes polisiebeamptes vinnig padgee toe die vragmotor weier om stil te hou.
Filander sê verskeie skote uit verskillende rigtings is afgevuur, maar die bestuurder het steeds geweier om te stop. Hy sê voorts die vragmotor het eers tot stilstand gekom toe die een motorband flenters geskiet is en dit in ’n sandbank beland het.