Vrou uit mangat gered

“Ons is nie almal padvarke nie en ek weet baie mense dink nie baie van ons nie, maar ek het ’n hart soos enige ander.”.


“Ons is nie almal padvarke nie en ek weet baie mense dink nie baie van ons nie, maar ek het ’n hart soos enige ander.”

Só sê Cameron Simons, die sogenaamde “Avanza driver”, wat almal aan die praat het.

Simons, of Camy, soos hy bekend staan, het Woensdagoggend behoorlik die tonge los gehad toe hy sy passasiers vir eers ignoreer en ’n vrou wat in ’n mangat geval het, te hulp gesnel het.

Camy vertel: “Ek het ongeveer 10:00 in Brutusstraat gery en die vrou sien stap, en die volgende oomblik was sy net weg. Ek het op die hoek van Athens- en Brutusstraat gesien die vrou sit in ’n mangat vas en het sonder om twee keer te dink gestop en twee mans wat in die Avanza was, gevra om te help.

“Ons het die vrou versigtig uitgehaal en met haar dokter toe gery,” vertel hy.

Volgens Queretta Lewies (62) was sy van die winkel af op pad huis toe, toe sy in die oop mangat val. “Ek het iemand gegroet en vergeet van die mangat wat al lank oop is.”

Volgens Lewies se dogter, Rene Lewies-Oktober, het haar ma se loseerder gebel en haar van die voorval vertel. “Wat egter van die jongman uitstaan, is dat hy weer teruggegaan het dokter toe om te verseker my ma is oukei,” vertel sy. Volgens Rene gebruik sy daagliks die Avanzas en het nog nie ’n probleem ondervind nie, en wat die jongman gedoen het, is ’n klinkklare bewys dat nie almal dieselfde is nie.

Volgens die beskeie Camy is dit nie eerste keer nie wat hy inspring om te help nie. Hy het eendag gesien hoe ’n man rigtingloos met ’n kind, wat ’n aanval gekry het, in sy arms rondhardloop. “Ek het by die man stilgehou en met hulle hospitaal toe gejaag. Die familie het gesê as hulle twee minute later by die hospitaal was, het hulle haar verloor.”. Volgens die wykraadslid Allister Lightburn behoort die mangat aan Telkom en het hy dit reeds verskeie kere aangemeld. Die mangat sal tydelik toegemaak word tot Telkom aandag daaraan skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.