Die formidabele digter Diana Ferrus het Dinsdag 8 Augustus Atlantis-vroue toegespreek as deel van Wesfleur-biblioteek se Vrouedagfeesvieringe.
Een van Ferrus se bekendste werke is, I’ve come to take you home, ’n gedig wat sy in 1998 oor Sarah Baartman geskryf het. In 1810 is ’n 20-jarige Baartman onder valse voorwendsels na Brittanje gelok deur die chirurg, William Dunlop. Hier is sy as seksslaaf gebruik en is in 1814 na Frankryk geneem, waar sy aan ’n dierehanteerder verkoop is.
Ferrus, ’n trotse afstammeling van die Khoi, sê haar gedig oor Baartman het ’n rol gespeel om die Franse regering te oortuig om haar oorskot na Suid-Afrika terug te stuur.
Sowat 50 vroue het die funksie by Wesfleur-biblioteek bygewoon en het kort-kort ’n traan afgevee, terwyl hulle na die merkwaardige digter geluister het. Almal het aan haar lippe gehang, terwyl sy vertel hoe Baartman in die vreemde gesterf het aan verlange na haar geliefde land. Ferrus het aan die groep vroue gesê as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy ook nie weet waarheen jy op pad is nie.
“Ek kom uit ’n huis waar drankmisbruik en geweld aan die orde van die dag was. My navorsing in 1994 oor ware identiteit en die soeke na genesing het bewys ek is ’n volwaardige Khoisan-afstammeling. Ek is so trots daarop,” het Ferrus gesê, wat ook hulde gebring het aan die meer as 300 Masbiekers (Mosambiekers), wat in 1794 verdrink het toe die slaweskip onderweg na Brasilië aan die Kaapse kus gesink het, met meer as 500 slawe aan boord.
Die 200 oorlewendes, is in die Kaap verkoop.
Sy het hulle met haar gedig, My naam is Februarie/My name is February gehuldig.