Die storie van 12 ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen bendes, werkloosheid en die koeëls.
Atlantis is steeds die verlore stad, maar 30 November word die boek, Vroue van Atlantis, wat hierdie 12 vroue se verhale vertel, bekendgestel.
Volgens Lapa-uitgewers is dit ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak: “Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid”, maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, brand dié 12 vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.”
Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studiebeurse.
Wie is in die boek?
Die twaalf vroue is: Francis Brown, Mary-Ann Cedras, Chrissie Cloete, Mandy Jonker, Christine Lewis, Sylvia Losper, Lenie Maya, Carol Muller, Sillene Oppel, Olivia Pharo, Mary Tenggren en Rachel Watson. Hulle verhale strek van gemeenskapdiens aan gestremde persone, bejaardes en kankerlyers, die rehabilitasie van dwelmafhanklikes, MIV/Vigs-voorkoming en -destigmatisering, tot inspirerende vroue wat staan in die onderwys, verpleegdienste, uitsaaiwese, ’n sangeres, ’n atleet en ’n tuinier.
Die samesteller en bydraers
Anastasia de Vries is ’n bekende skrywer, joernalis en dosent.
Hierdie boekprojek is van stapel gestuur in samewerking met UWK.
Ander bydraers tot die projek is skrywer en joernalis Eldridge Jason, joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.
Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.
Vroue van Atlantis is by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa-uitgewers beskikbaar. Die boek word 30 November om 13:30 by Parkview Primêr bekendgestel. Kaartjies kos R150 en sluit die boek en geskenkpak in. Bel 012 401 0700 of besoek www.lapa.co.za vir meer inligting.