Vyf gesinne dakloos na wendyhuise brand

Brande het vyf gesinne die week dakloos gelaat toe wendyhuise in twee afsonderlike voorvalle afgebrand het.


Brande het vyf gesinne die week dakloos gelaat toe wendyhuise in twee afsonderlike voorvalle afgebrand het.

In die eerste voorval het drie wendyhuise Sondag 21 Oktober in Sherwoodpark tot op die grond afgebrand.

Volgens Nicolene Human het die brand agter hulle wendyhuis in Bighorn Court ontstaan, maar sy kon nie sê hóé dit ontstaan het nie.

Human vertel die brand het baie gou versprei en het na die aangrensende twee wendyhuise oorgewaai.

Volgens Joyce Papier, op wie se erf die twee wendyhuise was, het sy en haar man geslaap toe hulle die krete hoor. “Die brand het versprei toe ons buite kom en die twee wendyhuise was in ligte laaie,” vertel sy. Die families was gelukkig nie tuis nie, maar het alles verloor en het slegs die klere aan hul lywe oor.

Volgens Joyce het die een familie ses katte aangehou omdat hulle baie lief vir die diere is. Drie van die katte het doodgebrand.

Niemand is in die voorval beseer nie.

“Ons het probeer uitvind hoe die brand ontstaan het. Een van die kinders het gesê die bure het vuur gemaak en die wind het die vuur buite beheer gewaai.”

Gerugte van koper wat gebrand is, kon nie bevestig word nie. Volgens kapt. Cyril Dicks, plaaslike polisiewoordvoerder, word daar geen klagte ondersoek.

In ’n ander voorval het brandweermanne op die toneel in Avondale gespook waar nog ’n wendyhuis vlamgevat het. Die gesin was ook nie tuis nie en het ook alles verloor. Dié brand het ook na ’n naburige wendyhuise versprei wat ook in puin gelaat is.

You need to be Logged In to leave a comment.