“Evil reins when good men do nothing.”
Hierdie alombekende aanhaling is vir menige ’n weerkaatsing van wat in ons gemeenskappe gebeur.
Die opregte, vreeslose, onbaatsugtige mense wat hard werk om Atlantis, Witsand, Mamre, Pella en omgewing ’n beter plek te maak, verkies om gesigloos te bly. Hulle woeker in die agtergrond en laat andere toe om in die “limelight” te wees.
Dis hoogtyd dat hierdie individue navore kom en van die platforms gebruik maak wat daar geskep word. Wees die leiers wat julle reeds is en help om die wa deur die drif te trek. Wat is die alternatief?
Opportuniste sal verewig op die voorgrond staan; met hul tonge praat van verandering, ’n beter lewe, werksgeleenthede, geen geweld, en so kan ons aangaan.
Wat geskiedenis nou al oor en oor bewys het – wanneer die geleenthede kom en dit pap reën – is dat hierdie individue die enigstes is wat skep. En die mense moet weereens in hul ellende krepeer.
Dis tyd vir dié goeie mans (vir seker ook vroue) om hul regmatige plekke in te neem as leiers van die dorp en só ook help om regtig ’n beter Atlantis, Witsand, Mamre, Pella vir almal te bewerkstellig, waar almal kan deel in die vreugde en “vet” word van die pap. – Red.