Die gedagte dat jou geliefde moontlik dwelms kan gebruik, is skrikwekkend.
Jy voel moedeloos, bekommerd en magteloos. ’n Mens is geneig om te hoop dat so iets nie in jou gesin gebeur nie.
Wanneer so iets dan wel gebeur, voel jy onvoorbereid oor hoe om die situasie te hanteer.
Hier is ’n paar wenke van wat jy kan probeer:
. Luister na mekaar en moedig oop en eerlike kommunikasie in die gesin aan.
. Raak bewus van die gevare van dwelmmiddels en verskaf inligting soos hulpbronne en hulp wat beskikbaar is aan jou geliefde.
. Stel ’n goeie voorbeeld deur positiewe keuses te maak wanneer dit kom by jou eie gedrag.
. Toon belangstelling in jou geliefde se lewe. Raak bewus saam met wie, waar en op watter aktiwiteite hulle hul tyd deurbring. Neem kennis van wat in hul daaglikse lewe gebeur en hoe dit hul beïnvloed, byvoorbeeld deur uit te vra oor hul dag.
. Bespreek middelmisbruik in ’n ondersteunende, kalm, eerlike, maar ook versorgende omgewing. Moedig jou geliefde aan om jou te vertel oor die omstandighede waar hul in kontak gekom het met die middels.
. Stel duidelike grense rakende watter gedrag aanvaarbaar is, byvoorbeeld dat jy nie dwelmgebruik in jou huis toelaat nie.
. Bied ondersteuning aan in jou geliefde se herstelproses. Probeer na die persoon te luister en probeer verstaan waardeur jou geliefde gaan. Probeer aan jou geliefde die geleentheid te bied om hul emosies met jou te bespreek.
. Wees bewus van jou eie proses en gedrag. Soms sonder dat familie dit bedoel maak hulle dit makliker vir hul geliefde om dwelms te gebruik. Byvoorbeeld jy sien dalk dat jou geliefde se gedrag ongewoon is, maar ignoreer dit om konflik te vermy. In so ’n mate maak jy dit eintlik makliker vir jou geliefde om dwelms te gebruik.
. Kry ondersteuning vir jouself. Moenie bang of skaam voel om vir hulp te vra nie. Net soos jou geliefde hulp en ondersteuning benodig verdien jy ook ondersteuning.
Skakel Cape Town Drug Counselling Centre in Atlantis by 021 571 7180 vir nog inligting oor waar jy ondersteuning vir jouself en jou geliefde kan kry.