Wat ’n suksesvolle SES vir Atlantis kan beteken

Om meer inligting oor die komende geleenthede en ontwikkelings van die SES bekend te maak, het Weskus Nuus en Green Cape besluit om ’n maandelikse rubriek met Weskus Nuus-lesers te deel. Hier is die eerste een.


Om meer inligting oor die komende geleenthede en ontwikkelings van die SES bekend te maak, het Weskus Nuus en Green Cape besluit om ’n maandelikse rubriek met Weskus Nuus-lesers te deel. Hier is die eerste een.

Daar word beraam dat daar teen 2030 $90 triljoen se beleggings in die globale groen ekonomie sal wees. Die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SES) vir Groen Tegnologieë, wat in Desember 2018 deur pres. Cyril Ramaphosa van stapel gestuur is, beoog om hierdie geleentheid te benut deur buitelandse en binnelandse beleggings te lok wat tot werkskepping en ontwikkeling van die plaaslike ekonomie sal lei.

SES’e reg oor die wêreld kom voor geweldige uitdagings te staan en ongelukkig is talle van hulle nie suksesvol nie. ’n Suksesvolle Atlantis SES kan egter teen 2030 beleggings van R3,7 miljard lok en 3 000 werksgeleenthede skep.

Tot dusver het die sone reeds R700 miljoen se beleggings gelok en 312 werksgeleenthede geskep. Vir sakeondernemings in Atlantis wat buite die sone werk, sal ’n suksesvolle, florerende SES ’n aantal regstreekse voordele inhou.

Een voordeel is die ontwikkeling van plaaslike infrastruktuur, soos paaie, elektrisiteitsnetwerke en internetverbindings. In Atlantis het die voorbereiding van die ondersteunende infrastruktuur vir die gebied en Atlantis-nywerhede reeds begin. Die Stad Kaapstad het die verbeterings gelei met opknapping vir ’n verbetering in elektrisiteitsvoorsiening, breëband, deur ’n glasveselnetwerk, en die openbare vervoerstelsel danksy die MyCiTi-busstelsel.

’n Suksesvolle SES sal ook voortgesette en groeiende beleggings in plaaslike ondernemings- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme meebring. Die voorgestelde plan vir die SES sluit in volgehoue ondersteuning vir belowende nuwe ondernemings, opleiding in gespesialiseerde velde en voortgesette werk onder jongmense om hulle voor te berei om die geleenthede wat deur die SES gebied word, te benut.

Tot dusver het meer as 700 jongmense deelgeneem aan ’n verskeidenheid programme. Hierdie programme sluit in die Ikamva-jeugonderrigprogram, die Atlantis Hernubare Energie Uitdaging en die Loopbaanuitstalling. Internasionale beleggers wat vervaardigingsaanlegte in die SES op die been bring, bied ’n potensiële voordeel aan ondernemings, naamlik die geleentheid om by die wêreldwye waardeketting aan te sluit.

Vir Atlantis-ondernemings wat goedere of dienste in hierdie waardekettings verskaf, sal ’n suksesvolle SES ’n voertuig wees wat hulle kan help om struikelblokke op die weg van groei en internasionalisering te oorkom.

Atlantis-ondernemings kan byvoorbeeld besighede wat sake in die SES bedryf, regstreeks van plaaslik-vervaardigde of ingevoerde goedere en dienste voorsien.

Om hierdie toekomstige geleentheid te benut, sal ondernemings so moet ontwikkel dat hulle mededingend kan wees met aantreklike pryse, hoë gehalte en dienste-aanbiedinge om vir versoeke om voorstelle van sodanige beleggers ontvanklik te kan wees.. Vir meer inligting oor die komende gemeenskapsvergadering op 18 Julie kontak Charlotte Perang by charlotte@green-cape.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.