Weereens geen verslae by subraadvergadering

Die subraad 1-kamers sal vanaf Mei-maand by die munisipale wetstoepasserskantore (Law Enforcement) in Saxonsea, Atlantis wees.


Die subraad 1-kamers sal vanaf Mei-maand by die munisipale wetstoepasserskantore (Law Enforcement) in Saxonsea, Atlantis wees.

Die nuus is Donderdag 6 April deur Cynthia Clayton, subraad 1-voorsitter asook wyksraadslid vir wyk 29, aan inwoners van Pella by ’n terugvoeringsvergadering meegedeel.

Daar is einde verlede jaar ’n besluit geneem om die subraad in kleiner areas te verdeel om dienslewering te verbeter. Rdl. Cynthia Clayton is op 14 November tot voorsitter van subraad 1, wat Melkbos, Atlantis en Du Noon insluit, verkies.

Sedert die eerste vergadering in Januarie blyk dit dat munisipale amptenare hulle min steur aan aanmanings van Clayton en subraadbestuurder, Wessie van der Westhuizen, oor hul traagheid.

Weskus Nuus het toe berig dat Clayton aan amptenare gesê het sy gee hulle “twee weke om hul huis in orde te kry”.

Maar met die derde subraadsvergadering, wat op Vrydag 17 Maart in Milnerton gehou is, is die vergadering vir ’n tweede keer kortgeknip weens ’n tekort aan terugvoerverslae.

Die vergadering is ook bygewoon deur die skadu-burgemeester vir subraad 1, Suzette Little.

Volgens Fiona Abrahams, ANC-proporsionele raadslid vir wyk 29 en Lubabalo Makeleni, wyksraadslid vir wyk 104 (Du Noon), het Little gal gebraak en het die vonke reeds vroeg in die vergaderig gespat toe sy (Little) wou weet hoekom die notule in ’n warboel en vol spelfoute was

Little het glo gesê die foute is onaanvaarbaar en kosbare tyd gaan verlore met regstellings en spelfoute.

“Dit is die derde vergadering waar daar geen verslae is nie. Ons vra ook al lank na ’n verslag oor waterbesparingsmaatreëls wat deur die Stad Kaapstad implementeer word,” het Abrahams gesê.

Volgens Makeleni, het Little aan die vergadering gesê die foute is onaanvaarbaar en sy wil die amptenare se name hê, sodat hulle by die stadsbestuurder verkla kan word.

Makeleni sê voorts die notule van die vorige vergadering is ook nie ’n ware weergawe van wat werklik in die vergaderings gebeur nie en het gevra dat dit teruggestuur word om hersien te word.

Clayton het ’n tekort aan personeel as verduideliking vir die administra-tiewe gebreke aangevoer.

Little het aan Weskus Nuus gesê die gelyste gebreke is “nie ’n goeie refleksie op die subraad nie”, en “probleme moes afgehandel word voor die subraadvergadering plaasgevind het”.

“Ek weet daar is intussen addisionele personeel aangestel, wat sal help om die uitstaande sake te adresseer,” het Little aangevoer.

Little het ook verwys na die Stad Kaapstad se nuwe organisatoriese ontwikkelings-en transformasieplan bedoel om dienslewering in die metro te verbeter.

“Die subrade is een van die maniere hoe die Stad beoog om uitdagings te identifiseer wat doeltreffende dienslewering aan alle inwoners verhinder”.

Die volgende subraadvergadering is Vrydag 21 April in Atlantis.

You need to be Logged In to leave a comment.