Jeugmaand het Vrydag amptelik afgeskop en as deel van bewusmaking van dié viering sal Weskus Nuus gefokusde stories spesifiek vir jonges en dié wat (nog) jonk van gees is, bied.
Die Suid-Afrikaanse regering sien burgers onder 30 jaar as jeugdiges, en vandeesweek het ons wenke vir die “ouer” jeugdiges. Jou dae op die skoolbanke is nou verby en jy is nou in die grootmenswêreld. Of dit nou geld, werksoek of die lewe op jou eie is, hier is ’n paar moet-weet-wenke:
Werksoek
Die eerste stap om jou eerste professionele werk te kry, is ’n goeie, volledige curriculum vitae (CV).
. Jou CV is ’n werkgewer se eerste voorstelling van ’n kandidaat. Maak dus seker jy stel ’n netjiese CV op. Maak seker om die dokument verskeie kere goed deur te gaan vir veral spelfoute en gee dit dan vir nog iemand om deur te werk.
. Maak gebruik van openbare biblioteke se Cape Access-fasiliteite om CV’s op te stel en te druk.
. Wees seker jy stel ’n geskikte en professionele e-posadres op.
. Kennis en studies is belangrik, maar werkgewers is geneig om werksoekers met behoorlike ervaring bo iemand met net boekekennis aan te stel.
. Internskappe en vrywilligheidswerk is ’n goeie manier om praktiese ervaring met haas in enige veld op te doen. Sulke programme bied gewoonlik nie veel van ’n salaris nie, maar ’n geleentheid om ervaring op te doen.
Geldsake
Jy het nou jou eerste werk en kan nou al die nuutste modes bekostig en jy kan uiteindelik meer as een drankie bekostig, maar voordat jy jou geld uitgee, maak ’n spaarplan. ’n Spaarplan beteken finansiële stabiliteit en ’n kans om uiteindelik minder aan jou motor of huis af te betaal.
Spaarwenke:
. Maak ’n aparte rekening oop net vir jou spaargeld. Hierdie rekening moenie jou daaglikse rekening wees nie, maar ’n plek waar jou spaargeld nie só maklik verkrygbaar is nie. Hoe langer dié spaargeld kan lê, hoe meer rente kan jy verdien.
. Spaar voor jy begin koop! Kry ’n debietorder wat maandeliks ’n paar rand aftrek voordat jy kans gekry het om al jou geld te blaas. Indien jy tot die einde van die maand wag om te spaar, sal jy vind daar is nie veel oor nie.
. Kry ’n paar spaardoelwitte. Mense spaar makliker wanneer hulle weet waarvoor hulle spaar, so, of dit nou vir ’n nuwe motor, aanbouings by die huis of ’n luukse vakansie is, spaar vir jou doelwit en stel ’n spertyd op.