Inwoners sal nou makliker toegang hê tot die subraad met hul kantoor wat amptelik 10 November in Saxonsea open.
Subraad 1-voorsitter, Cynthia Clayton, het Woensdag 18 Oktober by ’n openbare vergadering in Uitbreiding 12, terugvoering gegee aan die gemeenskap.
“Werkskepping is hoog op die Stad Kaapstad se agenda,” het Clayton inwoners verseker.
Volgens Clayton het die waterkrisis wat tans ervaar word veroorsaak dat sekere poste nie gevul kan word nie.
“Die Stad is baie gretig om mense se omstandighede te verbeter.
Die byna 500 werkgeleenthede vir die finansiële boekjaar getuig daarvan,” het sy aan die stampvol saal gesê. “Die Woman for Change-projek, wat tans werk aan 80 vroue verskaf is een van die projekte.
Die Special Economic Zone gaan ook vir baie werkgeleenthede sorg, waarby inwoners van Atlantis gaan baat vind,” het Clayton verder gesê.
By die vergadering het Clayton ook aan inwoners gesê, wyksraadslede speel ’n groot rol in die beveiliging van die dorp.
“Meer verkeersirkels word aangebring om motoriste te dwing om meer veiligheidsbewus te word en meer verantwoordelik te laat optree.”
Sy het ook inwoners gemaan om nie oop velde te gebruik vir onwettige storting nie.
“Die Stad mors te veel geld aan onwettige storting, wat vir ander projekte aangewend kon word,” het Clayton bygevoeg.