Die agtjarige Will Stevens se droom om eendag ’n polisieman te word, sal nooit verwesenlik kan word nie, maar dié gr. 2-leerder het hom Donderdag 4 April soos ’n ware polisiebeampte gedra.
Dié Parkview Primêr-leerder ly aan ’n seldsame siekte, progeria, ’n dodelike siekte wat lyers vinniger verouder. Lyers leef gemiddeld net tot hulle 14 jaar oud is.
Volgens die progeria-navorsingsinstituut is daar wêreldwyd 157 lyers wat aan dié oumenssiekte ly en slegs twee is in Suid-Afrika.
Kapt. Cyril Dicks, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sê die laerskool het verlede kwartaal ’n versoek gerig om Will, wat Saterdag 30 Maart verjaar het, soos ’n polisieman te laat voel. Dié versoek het glo almal geraak en Dicks sê hulle het besluit om aan die skool se wens te voldoen en Will se droom waar te laat word.
Parkview het ’n partytjie gereël wat deur al die graad tweetjies bygewoon is.
Elke jaar word Will medies gesproke agt jaar ouer, wat beteken dié seuntjie se liggaampie is 64 jaar oud.
Will het Saterdag 6 April met loeiende sirenes en in sy polisie-uniform by sy partytjie opgedaag. Die partytjie was ’n groot affêre met 150 maats.
Die maats het gedans en koekies en koeldrank geniet.
Volgens Pedro Stevens, Will se ma, is hy drie en half maande vroeg gebore. Hy moes ná sy geboorte nog ’n maand en ’n half in die hospitaal bly.
Sy sê haar kind is reeds op vier maande met progeria gediagnoseer, maar dit het haar nooit ondergekry nie. “Ek wil hom soos ’n normale seuntjie grootmaak en daarom het ek hom in ’n hoofstroomskool gesit. Hy babbel aanhoudend en het ’n groot liefde vir dans,” het sy ma opgewonde aan Weskus Nuus gesê.
Shannon Cordom, Will se juffrou, sê hy is baie aktief in die klas en wil weet waarom hy nooit rondgestuur word nie.
Cordom sê al raak hy gou moeg, wil hy betrokke wees in die klas en het ’n goeie sin vir humor.
“Hy is gewis baie geliefd in die skool en almal is baie beskermend teenoor hom,” sê Cordom.
Will het aan Weskus Nuus gesê hy geniet dit by die skool en sê sy juffrou is nie baie streng nie.
Hy vertel ook dat hy baie maatjies het en met almal speel.
Sy droom bly steeds om ’n polisieman te word.
Volgens sy ma is dit ’n plesier om Will in die huis te hê en gebruik hy nooit sy siekte as ’n verskoning nie.
Weens werksomstandighede, gaan daar soms dae verby dat Pedro nie haar seuntjie sien nie, maar sy sê sy sal hom vir niks in die wêreld verruil nie.