Md-dipu Parldan, eienaar van die Msalis-winkel by die Village Reef-sentrum in Avondale, staan verslae nadat hulle miljoene in die brand verloor het. Foto: Murphy Roberts


Beurtkrag is dalk die oorsaak dat ’n winkeleienaar van Avondale miljoe­ne rande se skade gely het toe sy winkel Vrydagaand vlam gevat het.

Volgens die winkelbestuurder en eienaar, Md-dipu Parldan, het hulle Vrydag 4 September die winkel by die ou Village Reef-sentrum ná 22:00 gesluit net nadat die krag weer aangegaan het.

“Ons het die dag se geld getel en was op pad uit toe die brand uitgebreek en soos ’n veldbrand versprei het. Ons kon net toekyk hoe die vlamme meer as R2 miljoen se voorraad verswelg,” vertel Parldan wat van Bangladesj afkomstig is.

Die eienaar sê die brandweer was gou op die toneel, maar die brand het vinnig buite beheer geraak.

Gelukkig het aangrensende winkels en geboue nie baie skade opgedoen nie.

Volgens Oswin Gonzalves, eienaar van die gebou, is die skade aan die gebou ook meer as ’n miljoen rand en sê die winkel se dak het ook heeltemal inge­val.

“Ek wag nog op die versekeraar om die presiese skade te bepaal,” het Gonzalves gesê.

’n Hardewarewinkel, wat regs langs die winkel geleë is, het vol­gens Gonzalves gelukkig net water- en rookskade, hy sê voorts die oorsaak van die brand is nog nie aan hom bekend gemaak nie.

Parldan het aan Weskus Nuus vertel hulle het ook persoonlike dokumente verloor en moet hy ook die beskadigde voorraad teen diewe beskerm.

Die brand is teen die Saterdagoggend heeltemal geblus nadat bystand uit Melkbosstrand ook moes kom help om verdere skade te verhoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025