Daar is seker praktiese seine wat ’n nuwe seisoen “aankondig” – dalk is dit jou ma wat alles afstof en rondskuif wanneer die lente aanbreek, of dalk die reuk van sonbrandolie wat beteken die somer is hier.
Vir my is die begin van herfs/winter eers wanneer daardie eerste pot groentesop gemaak word.
’n Week gelede is die eerste pot sop gekook en ’n foto is uit die Kaap vir my gestuur as bewys dat winter “nou regtig begin het”.
Elke Saterdag tussen Junie en Augustus is daar sop in my ouerhuis – sop, en niks anders nie. Jy sal honger ly as jy glo sop is “net vir siek mense” soos ’n niggie geglo het.
Jy sal vir jouself moet sorg wat kos betref, want as daar sop is, is dit nie nodig om nóg kos te maak nie, word geredeneer. Ek kom agter sop spreek iets van die mense wat dit maak. Elke gesin se sop is ook uniek en eie.
Vir “stamp en stoot” sien ek nie kans nie, maar vir ander is dit koningskos.
Só is ek ook al chicken noodle-sop by maats bedien – ’n waterige besigheid met min tot geen smaak in daardie geval. ’n Paar jaar gelede, met my eerste winter uit die huis, besluit ek om self die sopmakery aan te durf.
Daar was egter ’n paar praktiese aspekte wat ek nie goed deurdink het nie. Eerstens, om ’n pot sop vir een mens te maak, is onprakties en beteken ek moes vir die volgende week sop eet.
Ook was ek nie bereid om die tyd in te sit nie – hoe kon my pa vir ure aaneen net sop maak?
Dit het seker gehelp dat die sop deur die Saterdag-rugbywedstryd geprut het en dat elke waterbreuk ’n kans was om na die pot te gaan loer. Dit het vir hom gewerk, maar vir my is dit ’n straf om langer as 30 minute in die kombuis te wees.
Ek kon ook glad nie verstaan hoe om die tekstuur reg te kry nie. Nog water het beteken dis te loperig; nog bestanddele het dit so dik soos ’n bredie gemaak. Hoe nou?
Die uiteindelike produk was ’n klonterige, dik, slykagtige kos wat, ten spyte van sy uiterlike voorkoms, nie te sleg gesmaak het nie. Ek het egter nie bakkies sop vir maats en kollegas aangedra nie – ek wou hulle dit spaar.
Intussen het ek mosselsop, tamatiesop, matzo ball-sop en vele ander probeer maak – sonder enige werklike sukses.
Nou koop ek liewer winkelsop as ek regtig ’n bakkie wil hê.
Die feit bly egter tot ek nie daardie groentesop van die huis geëet het nie, ervaar ek net koeler en natter somersdae en geen winterweer nie.