Wipplankstryd vir Hamlets

Hamlets-rugbyklub het Saterdag sy rieme teen ’n begeesterde Wesbank op laasgenoemde se tuisveld styfgeloop.


Hamlets-rugbyklub het Saterdag sy rieme teen ’n begeesterde Wesbank op laasgenoemde se tuisveld styfgeloop.

Die tuisspan was die hongerste van die twee spanne en het die wipplank­stryd met 36 – 31 gewen. Hamlets het homself gou reggeruk nadat Wessies eerste bloed geruik het en het sy neus voor gekry danksy ’n verdoelde drie, nadat hy die tuisspan se verdediging tot die uiterste beproef het.

Die vlugvoetige Hamlets het die skare met hardlooprugby getrakteer en het omgekeerde in teenaanvalle omskep wat die tuisspan laat verdedig het. Wesbank het egter kopgehou en gou die agter­stand uitgewis met ’n verdoelde drie om sy neus voor te kry met 12-7. Hamlets het byna onmiddellik teruggeslaan en die tuisspan aan die slaap gevang vir ’n verdoelde drie om met 14-12 voor te loop. Wesbank het daarna verwoed aangeval en het kamp in die besoekers se doelgebied opgeslaan, maar rotsvaste verdediging het die tuisspan tot foute gedwing wat in ’n teenval van byna 85 m gesorg het.

Hamlets het egter nie die geleentheid gebruik nie en Wesbank met sy vyfsterverdediging, het die besoekers tot foute gedwing. Met spel wat van die een helfte van die veld na die ander verskuif het, het die besoekers meeste van die gebiedsvoordeel geniet, maar hanteerfoute het die span duur te staan gekom.

Hamlets het sy voorsprong kort voor rustyd vergroot met nog ’n drie en die spanne kon gaan water drink met Hamlets 19-12 voor. Die begeesterde tuisspan het weer die tweede helfte begin soos hy die eerste helfte begin het en was gou op die aanval. Hamlets se voorspelers was pure yster en het die tuisspan behoorlik opdraande gegee.

Wesbank se honger vir wen het egter na vore getree en die besoekers moes verdedig, maar kon nie al die gate toestop nie en die wedstryd was gou gelykop.

Hamlets het geweier op te gee en Austin Apollis het na volgehoue druk die Wessies-ondersteuners stil gehad toe hy Hamlets weer laat voorloop het. Wesbank het egter gewys waarom hy een van die topspanne in Boland is en met goed beplande agterlynbewegings en voorspelers wat goed verdedig, is sake weer gelykop gemaak met 26 punte elk.

Die wedstryd kon enige kant toe swaai en Hamlets het nie die kanse gebruik wat hy geskep het nie.

Die wil vir wen het ontbreek en Wesbank het gewys hy is die hongerste van die twee.

You need to be Logged In to leave a comment.