Witsand kry dalk eie saal

Danksy ’n maatskappy wat tans kragkabels van Morning Star tot Atlantis en van hiér tot by Koeberg lê, gaan Witsand binnekort met ’n saal spog.


Danksy ’n maatskappy wat tans kragkabels van Morning Star tot Atlantis en van hiér tot by Koeberg lê, gaan Witsand binnekort met ’n saal spog.

Raadslid Cynthia Clayton, voorsitter van subraad 1, het by die raad se maandelikse vergadering Donderdag 21 Junie ’n mosie ingedien dat die Stad Kaapstad toestemming moet gee dat die verwaarloosde karwas-staanplek in ’n gemeenskapsaal vir inwoners van Witsand omskep moet word.

Volgens Clayton het Mkhulu Elektries, as deel van sy sosiale verpligtinge en gemeenskapbetrok­kenheid, ingestem om die saal te bou indien die Stad die nodige toestemming verleen.

“Die saal, wat dan vir vergaderings, naskoolse sorg en selfs as ’n kliniek gebruik kan word, kan net tot voordeel vir die gemeenskap wees,” sê sy.

Clayton sê voorts gesprekke met alle rolspelers is reeds in ’n gevorderde stadium en die wyksraadslid vir dié gebied, Barbara Rass, het in haar afwesigheid die mosie ondersteun.

Volgens Rass is sy ten gunste van ontwikkeling in haar wyk en ondersteun sy die projek.

You need to be Logged In to leave a comment.