Geweld teen vroue en kinders neem toe, sê Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting, wat slagoffers van geweld en seksuele oortredings ondersteun.
Volgens Janine word baie sake nou geopen en slagoffers praat ook meer vrylik oor hul ervarings. Passenz sê dit is kommerwekkend wat tans in Witsand gebeur. Verkragtings en ander misdade teen vroue en kinders wat nou aangemeld is, maak tans die gebied een van die hotspots in die gebied.
Passenz het tydens die onlangse 16 Dae van Aktivisme-veldtog gesê haar organisasie gaan in die nuwe jaar meer fokus op skole waar meer met die jongspan oor geslagsgeweld gewerk sal word. “Witsand is een van die gebiede waar ons as organisasie met ander wil saamwerk om die euwel hok te slaan,” vertel sy.
“Geslagsgeweld is nie normaal nie en moet nooit toegelaat en aanvaar word nie,” sê sy en voeg by “mans en vroue se waardigheid moet beskerm en gerespekteer word”.
Die feit dat slagoffers meer vrylik praat oor wat met hulle gebeur, is ’n bewys dat slagoffers nie meer bang is om geoordeel te word nie, sê die aktivis.
Volgens Passenz is die sake van die voormalige rugbyafrigter, wat van verkragting, besit en vervaardiging van pornografie verdink word, een van die sake wat haar na aan die hart lê.
Sy sê ook die vrou wat deur ’n man met ’n byl aangeval is, is maar ’n druppel aan die emmer. “Dit is ook hartseer dat senior personeel by die Atlantis-hof van die grudade beskuldig word,” het sy emosioneel gesê.