Grosvenor Primêr het die afgelope week vir al die verkeerde redes groot opslae in die media gemaak.

Die 41-jarige Ursula Daniels is woedend nadat haar sesjarige dogter, ’n gr.1-leerder by dié skool, na bewering deur haar onderwyser verneder is.

Die enkelma het tranerig aan Weskus Nuus vertel van die vernedering wat haar kind twee weke gelede moes deurgaan toe ’n vroulike onderwyser glo die kind kaal voor haar klasmaats uitgetrek het omdat sy glo “gestink” het.

Haar dogter het ook vertel: “Juffrou sê ek is dom”.

Volgens Daniels ontvang haar kind, wat op ses maande gebore is en ’n leerprobleem het, geen onderrig by die skool nie.

“Sy sit heeldag voor in die klas en speel met blokkies.”

Daniels sê haar kind se gr.R-onderwyser het verlede jaar gesê sy vorder baie mooi en kon sy reeds tel en haar naam skryf, maar dinge het die jaar heeltemal verander en die kind kan nie eers tot vyf tel nie.

Die gr.1-leerder is die afgelope twee weke reeds by die huis en die ma sê sy weet eenvoudig nie of sy haar kind gaan terugstuur nie.

“My kind wil nie teruggaan skool toe nie. En ek gaan nie toelaat dat sy teruggaan en heeldag in die kantoor sit nie.”

Volgens die skoolhoof, Terence Adams, dra hy kennis van die bewerings en sê die skool se beleid van “Abuse no more” is van toepassing.

Die saak word tans deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), se maatskaplike werkers en die departement van arbeid ondersoek en volgens Adams mag die skool nie betrokke by die proses raak nie.

Paddy Attwell, woordvoerder van die WKOD, sê die bewerings word in ’n baie ernstige lig gesien. Hy sê voorts die WKOD se distrikskantoor onder­soek die bewerings en ’n maat­skap­like werker is vir die leerder aan­gestel. Berading sal ook voorsien word.

You need to be Logged In to leave a comment.