Opknappingswerk is onlangs aan die Heathfield-woonstelle in Atlantis gedoen.
Volgens amptenare en ingenieurs van die Stad Kaapstad sou hierdie opknappingswerk inwoners in staat stel om “nog 50 jaar sorgvry te lewe,” maar die sement was skaars droog, toe val die trappe weer uitmekaar.
“Ons lewe in vrees dat klein kinders ernstig of noodlottig beseer gaan word. Hulle moet die gemors kom regmaak,” het inwoners Woensdag 20 Februarie gesê by ’n vergadering met wyksraadslid Barbara Rass.
Volgens Gloria Bester, ’n inwoner van dié woonstelblok, het inwoners besluit genoeg is genoeg en het hulle die werkers van die uitgebreide openbare werke (EPWP) verwilder.
“Hulle stuur mense uit ander gebiede om hiér te kom skoonmaak terwyl byna almal hier werkloos is. Ons gaan dit nie meer langer duld dat mense aan ons moet voorskryf nie,” het Bester gesê.
Inwoners het aan Rass gesê die raad moet dringend ’n plan maak, want die “woonstelle val uitmekaar”.
Volgens Bester het ’n stuk betonmuur reeds byna op haar kleinkind geval. “Wie gaan verantwoordelikheid aanvaar wanneer iemand seer kry,” wou sy weet.
Inwoners wou ook by Rass weet waarom die raad hulle nie tydelik hervestig sodat die woonstelblok “heeltemal reggemaak kan word” nie. “Hier is genoeg grond ons is bereid om in containers te woon solank hulle net ons plekke ordentlik regmaak,” het een inwoners gesê.
Nóg ’n inwoner, Allen Campbell, meen niemand luister na hul pleidooie nie.
Campbell het aan Weskus Nuus die massiewe betonblok gewys wat sy kleinkind rakelings gemis het. “Hulle het belowe die goed gaan nog 50 jaar hou,” sê Campbell.
Rass het aan die groep gesê sy sal alles in haar vermoë doen om aandag aan hul probleme te gee en sê ook dis kommerwekkend dat mense in dié woonstelblok woon wat klaarblyklik ’n veiligheidsrisiko inhou.