WoW-spelfees: Atlantis-leerders doen dit wéér

Plaaslike leerders Michaela James (13) van Hermes Primêr en Kelly-Ann Damon (11) van Saxonsea Primêr het weer deurgedring na die finale ronde van die Universiteit Stellenbosch (US) se Woorde open Wêrelde (WoW)-spelfees.


Plaaslike leerders Michaela James (13) van Hermes Primêr en Kelly-Ann Damon (11) van Saxonsea Primêr het weer deurgedring na die finale ronde van die Universiteit Stellenbosch (US) se Woorde open Wêrelde (WoW)-spelfees.

James en Damon is twee van drie Atlantis-leerders wat in die top vier in hul klasgroep geëindig het en dring dus deur na die nasionale kompetisie wat op 21 Oktober by die US-kampus in Stellenbosch gehou word.

Elke deelnemende skool het vroeg in die jaar vier leerders uit elke klasgroep genomineer om deel te neem aan uitkloprondes. Wenners van die Atlantis-interskole ronde het deurgedring na die distrik en provinsiale rondes, wat in September by die US gehou is.

James het vanjaar eerste plek in haar gr. 7-klasgroep behaal en Damon derde plek in die gr. 5-klasgroep.

Hulle het verlede jaar ook na die finaal deurgedring waar hulle uitgeval het.

Die leerders oefen drie dae per week en Saterdae saam met hul onderwysers. Hul ouers help ook die twee om hul spelvaardighede te beoefen met behulp van flitskaarte.

Tydens ’n spelkompetisie lees die beoordelaar ’n woord uit, die leerder het dan 30 sekondes om die woord korrek te spel. Indien die leerder onseker is, kan sy die beoordelaars vra om die woord te herhaal, vra wat die woord se betekenis is of vra dat die woord in ’n sin gebruik word.

Leerders in gr. R en 1 word gevra om woorde te klank.

James en Damon sê die spelkompetisie verbreed hul woordeskat en verbeter hul skoolwerk.

Shene Engwyn, WoW-koordineerder by Saxonsea Primêr, sê sy sien ook ’n verbetering in die leerders se skryfwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.