Inwoners van Saxonsea en Pella het onlangs terugvoering oor die afgelope finansiële jaar van hul wyksraadslid, Cynthia Clayton ontvang.
Tydens die vergaderings op 28 Maart en 6 April onderskeidelik het administratiewe amptenare ook die geleentheid gekry om oor hul verskeie departemente te rapporteer. Een van die klagtes deur inwoners, is die vandalisme by die Smart Park, wat tans in Saxonsea opgerig word. Die park, van bykans R10 miljoen, word na verwagting in Junie geopen, maar daar was aanvanklik nie vir ’n omheining begroot nie.
“Ek het geluister na inwoners se klaagliedere en die park gaan ten volle omhein word,” het sy aan inwoners gesê.
Clayton het inwoners die versekering gegee dat daar ook na die opgradering van sportvelde soos Wesfleur-sportgrond gekyk gaan word. Tydens die vergadering is daar baie klem gelê op waterbesparing, aangesien die damme ’n rekordlaagte van 16% bereik het. Daar gaan ook veredere verbeterings by die Atlantis-begraafplaas aangebring word.
Hoog op Pella-inwoners se lys is hul eie gemeenskapsaal. Dit en omheining vir die park gaan ’n prioriteit vir die wyksraadslid wees. Clayton het ook aan inwoners gesê sy is bekommerd oor die nuwe pad wat dalk deur spoedvrate misbruik gaan word en sy gaan na opsies kyk om tragedies op die pad te voorkom. Die nuwe pad, wat met LED-ligte pronk, gaan ook binnekort amptelik geopen word. Clayton sê voorts sy het ’n versoek van die Morawiese kerkleiers om met haar te ontmoet. Clayton sê dit is nog vroeg om te sê presies wat die ringkoppe in gedagte het, maar die grondkwessies in Pella en Mamre sal beslis deel van die gesprek wees omdat die Stad nie juis grond in Pella besit nie.
Rdl. Clayton gaan Mamre se inwoners op Dinsdag 25 April by die Mamre-gemeenskapsaal toespreek en Avondale volg kort daarna, maar ’n datum is nog nie bevestig nie.