Young Hearts van Pella het Saterdag moeilikheid op sy tuisveld, die Grafkelder, gehad en is tot dusver slegs ’n skadu van verlede seisoen se span.

Die span het Saterdag 11 Mei sy derde nederlaag in vyf wedstryde gely toe hy 25-28 teen Vredenburg vasgeval het.

Young Hearts het wel teen die einde karakter en veggees getoon, maar die verbroude kanse om die besoekers te begrawe, sal nog lank by die span se afrigter, Reuben Abels, spook.

Die tuisspan se skrumwerk in die eerste helfte was iets om te aanskou en het die swaarder agtal van die besoekers behoorlik in die grond geskrum. Voorspelers wat gereeld in die agterlyn geboer het, het baie kere aanvallende spel laat skipbreuk ly deur vorentoe aan te gee of die bal aan te slaan.

Pella se aanvallende agterlyn het egter steeds ’n vonk nodig, en of die keuse van die spoedvraat Barry Adonis op heelagter die regte een was, sal net Abels kan sê. Die besoekers het die tuisspan reeds vroeg onder druk geplaas met twee strafdoele en ’n verdoelde drie. Young Hearts het egter teruggeveg om binne bereik van die besoekers te bly.

Die tuisspan se verdediging het hom in die wedstryd gehou, maar ’n tekort aan afronding sal die span nog lank pootjie. Die besoekers het – met die telling kort voor rustyd nog gelyk – ’n fout van die tuisspan uitgebuit toe die haker weer eens nie sy springers kon vind nie en Vredenburg het ’n onverdoelde drie behaal.

Die tweede helfte het vinnig begin met al twee spanne wat die bal rondgeslinger het. Young Hearts was meer in sy teenstanders se halfgebied, maar die besoekers het hul voorsprong met ’n verdoelde drie vergroot. Die tuisspan het ’n goue geleentheid deur bottervingers laat glip en die voorsprong is tot net drie punte gekrimp. Enigeen van die spanne kon as oorwinnaars van die veld af stap, maar die besoekers het behoorlik kamp in die tuisspan se doelgebied opgeslaan.

Young Hearts se verdediging het gehou en met ’n teenaanval tot in die besoekers se kwartgebied gevorder, maar die bal met sekondes oor, verloor.

Abels se nagmerrie kan die naweek voortduur wanneer sy span na St. Helenabaai reis.

Mamre het Saterdag op sy tuisveld sy eerste oorwinning geproe toe hy Langebaan 48-43 geklop en ’n welverdiende bonuspunt verdien het.

Dié span van Graig Schoeman kan die naweek voortbou op sy vertoning wanneer hulle na Paternoster reis.

In ’n WP-ligawedstryd, het Hamlets vir Young Peoples Saterdag 59-8 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article