Young Hearts het Saterdag op die Grafkelder sy onoorwonne status behou toe hy Vredenburg se Burg Boys sonder ‘n punt op die punteleer teruggestuur het.

Young Hearts het die wedstryd 39-21 gewen nadat die tuisspan rustyd 12-13 agter was. Vredenburg het die troepe van die grafkelder in die eerste helfte met aanvallende spel die meeste van die verdediging laat doen, maar die tuisspan het die besoekers in toom gehou. Vredenburg, wat met ‘n strafskop eerste bloed geruik het, kon egter nie daarop voortbou nie. Die tuisspan het egter koelkop gebly en is met ‘n onverdoelde drie beloon en ook sy neus voor gekry.

Vredenburg – met hope balbesit en gebiedsvoordeel – is egter op die agtervoet gehou met rotsvaste verdediging deur die tuisspan. Vredenburg het ook die vasteskrums in die eerste helfte oorheers, maar kon nie die kanse in punte omskep nie.

Die tuisspan het die tweede helfte begin soos ‘n span wat honger is om te wen en nie teleurgestel nie. Die Burg Boys was egter net ‘n skadu van die eerste helfte. Die besoekers moes keer vir al wat hulle werd was en is ook in die vaste skrums soos ‘n “Shoprite trollie” rondgestoot. Die besoekers kon egter nie al die gate toemaak nie en die tuisspan het nog drie drieë ingeryg, wat hul bonuspunt verseker het. Die twee spanne was voor die wedstryd onoorwonne, en met ‘n eerste plek op die spel het Young Hearts se aanvallende troepe sy eer op die Grafkelder verdedig.

Die besoekers se dissipline het ietwat gelol terwyl die tuisspan ook nie juis engele was nie. Young Hearts het met die oorwinning die eerste plek op die punteleer ingeneem (een wedstryd minder as die ander).

Mamre het sy veldtog in die Swartland-streek op dreef gekry met ‘n 36-18-oorwinning oor Voorberg.

Volledige uitslae:

Weskus

Young Hearts 39-21 Vredenburg, Paternoster 27-27 St Helena, Hopefield 23-22 Saldanha, Velddrif 73-13 Goedverwacht en Langebaan 46-30 Piketberg

Swartland

Villagers Wittewater 17-16 Wesbank, Never Despairs

24-20 Abbotsdale, Darling 15-10 Moorreesburg, Goodhopes 38-31 Porterville en Voorberg 18-36 Mamre

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article