Young Hearts sal beter wil doen

Young Hearts se rugbyspan het tot dusver gemengde welslae op die rugbyveld behaal.


Young Hearts se rugbyspan het tot dusver gemengde welslae op die rugbyveld behaal.

Die span, wat aan die einde van die eerste ronde vier van sy wedstryde gewen en vier in die reeks verloor het, sal in die tweede ronde gewis beter wil doen.

Die span het in sy voorlaaste wedstryd van die eerste ronde 15-20 teen Saldanha op die grafkelder vasgeval.

Die tuisspan het egter gewys dat hy oor die vermoë beskik om enige span in die kompetisie te laat les opsê.

Die span van Reuben Abels het teen Saldanha gewys dat daar gewis heelwat diepte in die span is nadat hy in die eerste helfte net een drie gedruk het en rustyd 5-13 agter was, maar die wedstryd ampertjies gewen het.

Karakter en veggees ontbreek glad nie by die spelers nie en om drie drieë teenoor net twee teen die onoorwonne voorlopers te druk, is iets wat gedoen wil wees.

Saldanha, wat fisiek baie sterker as die ander spanne is was egter onder druk nadat Young Hearts hulle moes laat omdraai. Die span van Abels het Saterdag teen Hopefield in ’n wegwedstryd gewys dat hulle van uitspeelwedstryde droom toe die tuisspan die knie 12-18 moes buig.

Pella het met die oorwinning vir eers die vierde plek op die punteleer ingeneem met Mamre en St. Helenabaai, wat nog teen mekaar moet speel, wat in hul nek blaas.

Mamre moes die afgelope naweek teen St.Helenabaai gespeel het, maar die wedstryd is uitgestel weens ’n sterfgeval in die Agterbaai. Mamre, wat goed op dreef is, kan dalk dinge vir sy buurspan moeilik maak. Indien Mamre die stryd wen, skuif hy na die vierde plek op die punteleer en sy teenstanders sal met die Groen truie moet rekening hou. Mamre het in sy laaste wedstryd wel teen Vredenburg vasgeval, maar die besoekers het goeie rekenskap van hulself gegee en Vredenburg moes op sy tuisveld hard vir die oorwinning werk.

Hamlets, wat in die WP Super Liga speel, het ook die afgelope twee weke goeie oorwinnings aangeteken. Die span het eers tuis 19-15 met Franschhoek, wat in die tweede plek is, klaargespeel. Saterdag het Hamlets teen Busy Bees in ’n wegwedstryd gespeel en die wedstryd 26-20 gewen. Dié twee oorwinnings het die span van Gavin Passens binne bereik van die voorlopers op die punteleer geplaas ten spyte van die feit dat hy een wedstryd minder as die voorlopers gespeel het.

You need to be Logged In to leave a comment.