Young Hearts speel dalk volgende seisoen in SwartWeskus-reeks

Young Hearts-rugbyklub is een wedstryd weg om volgende seisoen in die Boland se SwartWeskus-grootuitdaag­reeksliga te speel.


Young Hearts-rugbyklub is een wedstryd weg om volgende seisoen in die Boland se SwartWeskus-grootuitdaag­reeksliga te speel.

Saterdag in ’n wegwedstryd het hulle Porterville met 34-19 verslaan. Pella-sportveld gaan Saterdag ’n miernes van bedrywighede wees wanneer die tuisspan Doringbaai pak.

In die wedstryd teen Porterville het die ligter pak van Young Hearts die swaarder pak heeltemal oordonder en verder het hulle ook die skrums, lynstane en amper die hele veldgebied oorheers. Reuben Abels het goeie rugby gespeel en in die eerste 10 sekondes van die wedstryd reeds stempel afgedruk deur punte te behaal. Porterville kon nie hierna herstel nie en vyf minute later het Pella se span weer punte behaal. Die rustydtelling was 17-5.

Pella se goeie voorbereiding en hulle wedstrydplan was goed uitgevoer. Young Hearts se puntemakers was Gilmore Solomons, Bernard Snell, Barry Adonis (2), Alfonso Saal, Luciano Marcelli en Kirwin Solomons met twee doelskoppe.

  • Hamlets het vir die tweede agtereenvolgende jaar deurgedring na die Westelike Provinsie se Superliga toe hulle Villagers in die halfeindstryd met 42-36 geklop het, nadat die halftydtelling 15 elk was. Al wat leef en beef in Mamre sal na City Park op ruk 23 September wanneer hulle Franschhoek in die eindstryd pak.

Isaac Davids, Dalyn Arends, Brynn Gericke, Ashwen Prins en Reynique Fortuin het agter die pale vir Hamlets gekuier. Brynne Gericke het ook vier doelskoppe asook twee strafskoppe aangeteken terwyl Keanon Okkers ook ’n skepskop behaal het.

You need to be Logged In to leave a comment.