Die Young Hearts-rugbyklub se tweede ronde het Saterdag 22 Junie op ’n lae noot begin toe die span op sy tuisveld teen Langebaan 6-16 vasgeval het nadat die rustydtelling 3 elk was.
Die besoekers, wat die eerste helfte met die wind in die gesig gespeel het, het die meeste aanvalswerk gedoen terwyl die tuisspan die meeste van die tyd moes verdedig.
Weerstoestande wat nie gunstig was vir hardlooprugby nie het al twee spanne tot hanteerfoute gedwing. Die besoekers het die bal selfs voor ’n oop doellyn verloor.
Die tuisspan, wat sonder verskeie staatmakers moes klaarkom, het egter steeds goeie rekenskap van homself gegee.
Young Hearts het kort ná die omdraaislag die neus met ’n strafskop voor gekry. Die besoekers het egter die een aanval na die ander geloods, maar die tuisspan se verdediging wou nie bes gee nie.
Die besoekers het egter die tuisspan se swak dissipline uitgebuit en het nog twee strafskoppe deur die pale gejaag om 9-6 voor te loop.
Die tuisspan het daarna alles in die stryd gewerp om die wedstryd te verseël, maar die besoekers het die bal met die tuisspan sterk op die aanval in hul kwartgebied op onverklaarbare wyse afgeneem en die tuisspan se agterlyn aan die slaap gevang met ’n drie van byna 70 m.
• Atlantis-rugbyklub het ’n goeie oorwinning in ’n wegwedstryd teen Thistles van Bonteheuwel behaal – telling: 29-13.
• Hamlets het ook in ’n wegwedstryd teen Helderberg koning gekraai – telling: 36-15.
• Mamre het Sondag 13-36 in ’n wegwedstryd teen Saldanha vasgeval en pak Young Hearts eerskomende Saterdag in Mamre