Pella het sy eie Seabelo Senatla in Barry Adonis.
Dié 20-jarige spoedvraat wat verlede jaar die Boland o.20-span verteenwoordig het, het tydens Darling se 7’s-toernooi op Saterdag 4 Februarie menige ondersteuner se harte laat vinnig klop met sy vaardighede.
Adonis was ook die voorste drie-drukker met 7 drieë, waarvan twee hat tricks was. Altesaam 23-spanne het aan die jaarlikse toernooi deelgeneem.
Plaaslike klubs, Hamlets en Mamre, het elk twee spanne en Young Hearts van Pella het een span ingeskryf. Young Hearts het vinnig in almal se harte gekruip toe hulle die studente van UWK met 17-10 geklop het.
Young Hearts het Mamre se tweede span ’n goeie loesing gegee toe hulle hul bure met 41-5 geklop het. Die span het ook die beste gevaar van die plaaslike spanne. Mamre en Hamlets se eerste spanne het die uitspeelronde gehaal, maar kon nie verder as dit vorder nie.
Mamre het teen Helderberg Baabaas 26-5 vasgeval terwyl Hamlets teen die uiteindelike wenners, Newtons van Wellington, met 33-26 vasgeval het, nadat die wedstryd gelykop met 26 elk geëindig het. Newtons het die wedstryd in ’n sudden death-stryd gewen.
Hamlets het in die plaat half-eindstryd naelskraap teen die gasheer, Darling, verloor. Humeure het gedurende die wedstryd hoog opgevlam toe Hamlets hul ongelukkigheid uitspreek oor die skeidsregter nie ’n drie onder die pale wou toeken nie. Darling het die wedstryd met 21-19 gewen.
Young Hearts het Paarl Rangers in die beker-uitspeel vir ’n plek in die kwarteindstryd met 28-5 geklop en het daarna voortgebou met hul goeie spel toe Young Stars ook die onderspit moes delf toe Pella hulle met 21-12 geklop het.
Die geliefde span van Pella het egter in die beker-halfeindstryd teen die gedugte Elsies vasgeval.
Volgens die Young Hearts-spanbestuurder, Ashley Vister, het sy span baie goed voorberei en het die spelers met hul fiksheid bewys hulle is reg vir die komende rugbyseisoen.
Pella speel twee vriendskaplike wedstryde teen Mamre op 18 Februarie en 25 Februarie teen Atlantis, op hul tuisveld. Volgens Boland Rugby begin hul liga-wedstryde moontlik die tweede week in Maart terwyl WP-wedstryde in April afskop.